Big Ben is die bynaam wat die groot klok - die swaarste van altesaam vyf klokke met 'n gewig van 13,5 ton - in die kloktoring aan die noordelike kant van die Paleis van Westminster in die Londense volksmond verwerf het. Dikwels word dié bynaam ook gebruik om na die hele horlosie of klokwerk en die kloktoring te verwys.
Amptelik staan die toring bekend as Elizabeth Tower, 'n naam wat ter geleentheid van koningin Elizabeth II se diamantjubileum in 2012 aan die toring gegee is. Voorheen het dit slegs bekend gestaan as die "Kloktoring" (Clock Tower). Die toring is in 1858 voltooi en het intussen een van die bekendste bakens en ikoniese simbole van die Britse hoofstad en die hele Verenigde Koninkryk geword.