Die HMS Belfast is 'n ligte kruiser wat op 17 Maart 1938 te water gelaat is deur die Britse Vloot.
Hy is gebou in Belfast, Noord-Ierland deur Harland and Wolff. Die kiel is gelê op 10 Desember 1936 en hy is in diens gestel op 5 Augustus 1939. 'n Paar maande nadat dit in diens geneem is, het die skip 'n seemyn getref in die Firth of Forth, Skotland. Hy is ernstig beskadig deur die magnetiese myn en herstelwerk het tot November 1942 geduur voor hy weer aan operasies kon deelneem. Hy is ook toegerus met die nuutste radartegnologie. Daarna het hy gehelp om die konvooie na Rusland te beskerm en het 'n sleutelrol gespeel in die Slag van Noord-Kaap waar die Scharnhorst gekelder is. Die Belfast het ook deelgeneem aan die D-dag landings in Junie 1944 te Normandië. Hy het ook deelgeneem aan die Koreaanse Oorlog.
Tussen 1956 en 1959 het hy moderniserings ondergaan en was hierna die vlagskip in die Verre Ooste. In 1963 is hy uit diens onttrek en in reserwe geplaas.
Sedert 1967 het die Britse Imperial War Museum met pogings begin om die skip te red nadat daar beoog is om hom op te breek vir skrootmetaal. Vroeg in 1971 is die HMS Belfast Trust gevorm en in September van daardie jaar is hy na sy ankerplek in die Teemsrivier gesleep as 'n drywende museum onder beheer van die Imperial War Museum.
Hy het 10 553 ton water verplaas en was toegerus met:
Hy is aangedryf deur twee Parsons-turbines (80 000 skeepsperdekrag) wat hom teen 32 knope kon aandryf. Sy bemanning was 750 man groot. Hy is 613 voet, 6 duim (187 meter) lank, 66 voet (20 meter) breed en het 'n diepgang van 17 voet, 3 duim.