Die Hemeltempel of Tempel van die Hemel (tradisionele Chinees: 天壇, Tiāntán) is ’n keiserlike godsdienskompleks in die suidooste van Sentraal-Beijing. Die kompleks is besoek deur kesiers van die Ming- en Qing-dinastie vir jaarlikse seremonies waarin tot die hemel gebid is vir ’n goeie oes. Dit word soms ’n Taoïstiese tempel genoem, hoewel Chinese hemelaanbidding, veral deur keisers, van voor Taoïsme dateer.
Die tempelkompleks is van 1406 tot 1420 gebou tydens die bewind van keiser Yongle, wat ook verantwoordelik was vir die oprig van die Verbode Stad in Beijing. Tydens die bewind van keiser Jiajing in die 16de eeu is die tempel uitgebrei en het dit sy huidige naam gekry. Jiajing het ook drie ander tempels in die stad laat bou: die Sontempel (日壇) in die ooste, die Aardtempel (地壇) in die noorde en die Maantempel (月壇) in die weste. Die Hemeltempel is in die 18de eeu onder keiser Qianlong gerestoureer. Teen dié tyd was die staatsbegroting nie groot genoeg nie, en dit is die laaste keer dat die kompleks in keiserlike tye op groot skaal gerestoureer is.
Die tempel is tydens die Tweede Opiumoorlog deur die Anglo-Franse Alliansie beset. In 1900, tydens die Bokserrebellie, het die Agtlandeverbond die kompleks beset en dit vir sowat ’n jaar in ’n tydelike bevelspos omskep. Die tempel is deur die besetting ontheilig en die kompleks en tuin is erg beskadig. Daar was ook berigte oor die diefstal van artefakte. Ná die val van die Qing-dinastie is die tempel sonder toesig gelaat en die daaropvolgende verval het daartoe gelei dat verskeie sale ineengestort het.
In 1914 het Yuan Shikai, destyds die president van die Republiek van China, ’n Ming-gebedseremonie in die tempel gehou in ’n poging om hom as keiser verklaar te kry. In 1918 is die tempel in ’n park omskep en vir die eerste keer vir die publiek oopgestel.
Die Hemeltempel is in 1998 as ’n Unesco- wêrelderfenisterrein aangewys.
Die kompleksterrein is 2,73 km2 groot en bevat drie groot gebouegroepe, wat almal volgens streng filosofiese vereistes gebou is:
Hemeltempel | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 天壇 | |
Vereenvoudigde Chinees | 天坛 | |
Pinyin | Tiāntán |
In antieke China is die keiser beskou as die "Seun van die Hemel" wat aardse sake namens, en as verteenwoordiger van, hemelse gesag uitvoer. Dit was belangrik dat die volk sien hy betoon respek teenoor die bron van sy gesag, in die vorm van offerandes aan die hemel. Die tempel is gebou vir hierdie seremonies, wat meestal bestaan het uit gebede vir goeie oeste.
Twee keer per jaar sou die keiser en sy gevolg van die Verbode Stad af na die kompleks reis en daar oorbly; hulle sou spesiale klere dra en geen vleis eet nie. Geen gewone Chinees is toegelaat om teenwoordig te wees nie. Die keiser sou persoonlik vir ’n goeie oes bid. Hy sou die seremonie met die wintersonstilstand op die Aardse Heuwel hou. Dit moes perfek uitgevoer word; daar is algemeen geglo die kleinste fout kon vir die volgende jaar slegte gevolge vir die hele volk inhou.
Die aarde is met ’n reghoek voorgestel en die hemel met ’n sirkel. Verskeie eienskappe van die tempelkompleks simboliseer die verband tussen die aarde en die hemel, en tussen die reghoek en die sirkel. Die hele kompleks word omring deur twee mure; die buitenste muur het ’n hoër, halfronde noordelike deel wat die hemel voorstel en ’n korter, reghoekige suidelike deel wat die aarde voorstel. Beide die Bidsaal vir Goeie Oeste en die Ronde Heuwelaltaar is rond, en elk staan op ’n vierkantige stuk grond, wat weer eens die hemel en aarde voorstel.
Die syfer nege verteenwoordig die keiser en kom voor in die ontwerp van die Ronde Heuwelaltaar: ’n Enkele ronde marmerblad word omring deur nege blaaie, dan ’n ring van 18 blaaie, ens. totdat die buitenste een van nege ringe nege maal nege plate bevat.
Die Bidsaal het vier binneste, 12 middelste en 12 buitenste pilare, wat onderskeidelik die vier seisoene, die 12 maanmaande en die 12 tradisionele Chinese tweeuurtydperke verteenwoordig. Die vier binneste steunpilare beeld drake uit en hou die struktuur, wat die styl van ’n antieke Chinese paleis naboots, regop. Saam verteenwoordig die 12 middelste en 12 buitenste pilare die tradisionele sonterme. Al die geboue in die tempel het spesiale, donkerblou dakteëls wat die hemel voorstel.
Die Sewestersteengroep oos van die Bidsaal verteenwoordig die sewe pieke van Berg Tai, ’n plek van hemelaanbidding in klassieke China.
Die omringende park is taamlik groot; dit beslaan 267 ha. Dele daarvan is speel- en oefenterreine. Dit word algemeen deur volwassenes en kinders gebruik. Van die oop ruimtes en buitegeboue word gebruik vir koor-, dans- en ander uitvoerings.
Die park self is daagliks van 06:00 tot 22:00 oop. Die terreine in die park wat besoek kan word, is van April tot Oktober van 08:00 tot 17:30 oop en van November tot Maart tot 17:00. Daar is ’n klein toegangstarief.