Kartago (ook: Carthago, Kartage, van Latyn: Carthago, uit Punies: Qart-Hadasht: nuwe stad) was in die eerste millennium v.C. 'n belangrike stad aan die kus van die huidige Tunisië. Die stad was die grootste opponent van die Romeinse Republiek en is ná die Derde Puniese Oorlog in 146 v.C. volledig vernietig.
Kartago is deur die Fenisiërs gestig en tradisioneel geld 814 v.C. as die stad se stigtingsdatum. Volgens Philo van Byblos wat in die 2de eeu ná Christus gelewe het - duisend jaar later - het hy annale van die Tyriese koning Mattan I gesien, wat sê dat hierdie koning sy troon aan sy elfjarige seun Pygmalion nagelaat het. Dit sou vir Pygmalion se suster Elissa die aanleiding gewees het om na die weste te vlug en in 814 v.C. die stad Kartago te stig. In argeologiese opgrawings is 'n hanger gevind met die name van Pygmalion en Astarte in die graf van Yada'milk en mense het aanvanklik geglo dat hy een van die oorspronkelike stigters van die stad was. Ongelukkig is daarna gevind dat Yada'milk drie eeue later gelewe het. Die vroegste tyd van die stad is argeologies sleg bekend en niks ouer as van 760 v.C. is gevind nie.
Rome en Kartago het mekaar in drie oorloë, wat die Puniese oorloë genoem word, die stryd aangesê:
Die naam Punies kom van die Latynse woord Poeni wat Fenisiërs of Kartagers beteken. Punies is ook die naam van die Semitiese taal wat die Poeni gespreek het. Hierdie taal was nou verwant aan Hebreeus.