Parys (Frans: Paris [paˈʀi] luister (·inligting)) is die hoofstad en grootste stad van Frankryk met 'n bevolking van 2,2 miljoen en 'n oppervlakte van 105,4 km². Saam met sy voorstede vorm Parys 'n metropolitaanse gebied met sowat twaalf miljoen inwoners. Administratief is Parys tegelykertyd 'n stad en 'n département.
Parys is – na Brussel – die stad waar die meeste hoofkwartiere van internasionale organisasies gesetel is, soos Unesco, OESO, die Internasionale Handelskamer (ICC/CCI), die Internasionale Energie-agentskap (IEA), die Europese afdeling van Interpol en die Europese Ruimtevaartorganisasie (ESA). Dit is verreweg die grootste Franssprekende metropool ter wêreld en die kulturele spilpunt vir die internasionale gemeenskap van Franstaliges (die sogenaamde Frankofonie).
Parys, sy voorstede (La Petite Couronne – "Klein Randgebied") en die omgewing (La Grande Couronne – "Groot Randgebied") word L'Île-de-France genoem – dit is die historiese hartland van Frankryk en sy geestelike middelpunt. Die Seineoewer is in 1991 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.
Daar is geen ander stad wat dieselfde bevoorregte stelling in sy eie land en op sy kontinent inneem soos Parys nie – dit is tradisioneel die stad van die avant-garde asook die stad wat aan die voorpunt van belangrike ontwikkelings staan. Parys is geweldig invloedryk in Frankryk, Europa en die wêreld, wat mode, kuns, politiek, argitektuur, filosofie, musiek en filmkuns betref.
Die metropolitaanse gebied van Parys is een van die belangrikste finansiële en sakespilpunte van Europa waar sowat veertig persent van alle Franse maatskappye hul hoofkwartiere het. Die bruto nasionale produk van hierdie gebied is groter as dié van Australië. Die voorstad La Défense in die département Hauts-de-Seine huisves die grootste sentrale besigheidsgebied van Europa en op een na ook die grootste Europese aandelebeurs. Parys het as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele van 1900 en 1924 opgetree en sal naas Londen in 2024 die tweede stad wees wat vir 'n derde keer as gasheerstad vir Olimpiese Somerspele optree.
Die kernstad – amptelik Ville de Paris – vorm administratief 'n selfstandige département met 'n oppervlakte van 105,4 vierkante kilometer en 'n bevolking van 2,2 miljoen wat van Parys die mees digbevolkte hoofstad in Europa maak. Dit word administratief onderverdeel in twintig arrondissements (stadsdistrikte) en tagtig quartiers (stadsbuurte).
Uitgestrekte voorstede – in Frans banlieues genoem – omring die kernstad in twee konsentriese ringe. Die binnekring daarvan word gevorm deur die drie départements Hauts-de-Seine, Val-de-Marne en Seine-Saint-Denis. Die buitekring, waarin die vier départements Seine-et-Marne, Essonne, Val-d'Oise en Yvelines geleë is, het nog 'n relatief sterk landelike karakter.
Die bogenoemde agt départements met 'n totale oppervlakte van 14 518 vierkante kilometer en 'n bevolking van twaalf miljoen vorm saam die administratiewe gewes Île-de-France – die derde grootste metropolitaanse gebied in Europa en die welvarendste streek in Frankryk.
Parys en sy voorstede is op 'n gemiddelde hoogte van 65 meter bo seevlak in die sentrum van die Paryse Bekken, 'n vrugbare landboustreek, geleë. Die stadsgebied word deur twee groot bosgebiede omring wat as ontspanningsgebiede vir die stedelike bevolking dien. Die hoogste van sewe heuwels binne die stadsgrense is Butte Montmartre (130 meter). 'n Kabelkar, die Funiculaire de Montmartre, neem besoekers na die bergpiek. Teen die hange van die Montmartre is die enigste wingerd in die Franse hoofstad aangelê.
Die Paryse meridiaan, wat in 1718 deur die Franse sterrekundige en geodeet Jacques Cassini (1677–1756) vasgelê en in 1806 deur die natuurkundige en menseregte-aktivis François Arago (1786–1853) noukeurig bereken is, het tot en met 1884, toe die Internasionale Meridiaan-konferensie in Washington, D.C. gehou is, een van baie nulmeridiane gevorm. Dit loop regdeur die Paryse sterrewag en word sowel deur 'n aantal suile asook deur die Arago-bronsmedaljonne aangedui wat in 1995 deur die Nederlandse konsepkunstenaar Jan Dibbets op 'n diskrete manier in die straatplaveisel, sypaadjies, binnehowe en verskeie geboue (waaronder die Louvre-museum) versink is. Die medaljonne is 'n eerbetuiging vir hierdie bekende Franse natuurkundige en menseregte-aktivis. Van die oorspronklik 135 plakette, wat aanvanklik min belangstelling gewek het, is ná die vrystelling van The Da Vinci Code, die Amerikaanse skrywer Dan Brown se blitsverkoper-riller, gesteel. Die skrywer se verwysing na 'n sogenaamde "Roselyn" in verband met die medaljonne is suiwer fiktief.
Parys het 'n gematigde oseaniese klimaat wat deur die Noord-Atlantiese Stroom beïnvloed word. Daar is dus gewoonlik geen ekstreme weerstoestande wat van buitengewoon hoë of lae temperature vergesel word nie. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 10,9 °C. Die gemiddelde jaarlikse hoogste temperatuur is sowat 15 °C, die gemiddelde laagste jaarlikse temperatuur sowat 7 °C.
Die hoogste temperatuur, wat ooit aangeteken is, was 40,4 °C op 28 Julie 1948, en die laagste –23,9 °C op 10 Desember 1879. In die laaste jare is die gebied van Parys met die Europese hittegolf van 2003 en die baie koue winter van 2006 deur twee ekstreme weerverskynsels getref.
Reënval kom dwarsdeur die jaar voor, en Parys staan bekend vir sy skielike reënbuie. Die gemiddelde jaarlikse neerslae is 641,6 millimeter. Sneeuvalle word in Parys nouliks aangeteken; gewoonlik is dit 'n baie kortstondige dun sneeulaag wat gedurende die maande Januarie en Februarie mag voorkom.
Weergegewens vir Parys (Parc Montsouris), 1981–2010 | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 16,1 | 21,4 | 25,7 | 30,2 | 34,8 | 37,6 | 40,4 | 39,5 | 36,2 | 28,4 | 21 | 17,1 | 40,4 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 7,2 | 8,3 | 12,2 | 15,6 | 19,6 | 22,7 | 25,2 | 25,0 | 21,1 | 16,3 | 10,8 | 7,5 | 16,0 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 5,0 | 5,6 | 8,8 | 11,5 | 15,3 | 18,3 | 20,6 | 20,4 | 16,9 | 13,0 | 8,3 | 5,5 | 12,5 |
Gemiddelde minimum (°C) | 2,7 | 2,8 | 5,3 | 7,3 | 10,9 | 13,8 | 15,8 | 15,7 | 12,7 | 9,6 | 5,8 | 3,4 | 8,5 |
Laagste minimum (°C) | −14,6 | −14,7 | −9,1 | −3,5 | −0,1 | 3,1 | 6 | 6,3 | 1,8 | −3,1 | −14 | −23,9 | −23,9 |
Neerslag (mm) | 53,7 | 43,7 | 48,5 | 53 | 65 | 64,6 | 63,1 | 43 | 54,7 | 59,7 | 51,9 | 58,7 | 649,6 |
Bron: Météo-France, Infoclimat.fr |
Die vroegste Keltiese nedersettings het op twee klein eilande in die rivier Seine, wat deur die stad vloei, ontstaan. In daardie tyd het die nedersetting bekend gestaan as Louk-teih (Plek van die Moeras) of Lutu-hezi (Waterwoning). Hoewel dit net uit 'n klompie houthutte bestaan het, was dit 'n plek van strategiese belang.
Gaius Julius Caesar, wat Gallië in die 1ste eeu v.C. verower en onder Romeinse bewind gebring het, was die eerste wat na die oppidum of Keltiese nedersetting as Lutetia verwys het. Ander antieke bronne gee die naam as Lucotecia. In elk geval is die nedersetting met die plaaslike Galliese stam verbind wat in Latyns Parisii genoem is – as Lutetia Parisiorum. Topografies is die nedersetting, meer nog as vandag, deur die Seinerivier oorheers. Die rivierbed, wat in die stadsgebied vandag 'n maksimale wydte van tweehonderd meter bereik, was in die Kelties-Romeinse tydperk op plekke moontlik 'n halwe kilometer wyd. Aangesien winters indertyd redelik koud was, was die Seine gedurende die koudste maande met 'n yslaag bedek wat die bou van brûe bemoeilik het. Die ys kon geweldige druk teen hulle uitoefen en hulle meesleur. Daarnaas kon voedselvoorrade gedurende lang koueperiodes opgebruik wees sodat bewoners deur hongersnode geteister is.
Die antieke Seine was ook minder diep, met uitgestrekte moerasse aan weerskante. Aan die linkeroewer het 'n syrivier, die Bièvre, in die Seine uitgemond (waarskynlik naby die huidige Austerlitz-stasie). Die laagliggende grond langs die regteroewer is deur oorstromings bedreig. Dieselfde geld vir die antieke Île de la Cité, die eiland waarop die Parisii hul nedersetting gebou het, wat sowat ses meter laer as vandag geleë was. Dié eiland was betreklik kleiner as vandag – sewe of agt hektaar in vergelyking met die huidige sewentien – en slegs die grootste en belangrikste temidde 'n hele eilandgroep. Drie kleiner eilandjies was aan sy westelike kant geleë, vier aan sy oostelike kant. Hulle het eers in latere eeue met die oewerland of die Île versmelt; in die antieke tyd het die topografie navigasie op die rivier bemoeilik en beperk tot skepe met weinig diepgang.
As Romeinse veldheer het Julius Caesar nie soseer belang in Lutetia se strategiese waarde of topografiese besonderhede gestel nie. Die Romeinse Republiek was teen omstreeks 50 v.C. besig om sy magsgebied aansienlik uit te brei en uiteindelik die hele Gallië onder sy beheer te kry. Die suidelike deel van Gallië, wat destyds as Gallia Narbonensis bekend gestaan het, het reeds sedert 121 v.C. deel uitgemaak van die Romeinse Ryk en was 'n belangrike landverbinding tussen die Italiese en Iberiese Skiereilande. Casar het sy Galliese Oorloë tussen 58 en 51 v.C. gevoer om die Romeinse invloedsfeer in Suid-Gallië te beskerm, Galliese en Germaanse aanvalle uit die noorde af te weer en die Ryksgrens verder noordwaarts te verskuif – na die "Harige Gallië", soos dit ter onderskeiding van die geromaniseerde suide genoem is.
Dit was dus allesbehalwe spesifiek op die Parisii-stam gemik, maar eerder op ander, magtige stamme in Galliese streke suid van Lutetia soos die Averni in die Sentraalmassief, die Carnutes in die gebied van die huidige Orléans en die Senones rondom die huidige Sens. Die Parisii het aanvanklik moeite gedoen om nie by die konflik betrokke te raak nie. Hulle het selfs Caesar se guns geniet. In 53 v.C. het die veldheer in Lutetia 'n vergadering van alle Galliese stamme byeengeroep.
In die volgende jaar het die Parisii egter na die vyand oorgeloop. Caesar het troepe onder bevel van sy getroue luitenant Labenius na Lutetia ontbied waar die Parisii onder bevel van Camulogenus in 'n beslissende veldslag gedwing en verpletterend verslaan is. Parisii-stryders wat kon ontsnap het suidwaarts gevlug om by Vercingetorix se Galliese weerstandsmag aan te sluit. Volgens Caesar se verslae het sowat 8 000 Parisii aan die Slag van Alesië in 52 v.C. deelgeneem wat nog eens in 'n rampspoedige Galliese neerlaag geëindig het.
Ná die Galliese Oorlog is Gallië by die Romeinse Ryk ingelyf en in drie provinsies verdeel, waarby Lutetia deel uitgemaak het van Gallia Belgica, die mees noordelike van die drie administratiewe eenhede. Argeologiese vondse dui daarop dat Lutetia in die beginjare van die Romeinse bewind 'n fase van ekonomiese agteruitgang beleef het, sigbaar in die verminderde metaalwaarde van muntstukke wat in die stad geslaan is. Hierdie munte kontrasteer met indrukwekkende goue munte wat dekades voor die Romeinse verowering deur die Parisii vervaardig is en van die florerende ekonomie en handel in die gebied getuig.
So het Lutetia uiters stadig tot 'n stedelike nedersetting volgens die klassieke Romeinse model ontwikkel. Die stad het heel waarskynlik 'n roostervormige straatuitleg gehad, waarby vir die tradisionele cardo, die hoofstraat wat in noord-suidelike rigting aangelê is, 'n bestaande pad gekies is wat parallel met die huidige Rue Saint-Jacques geloop het. Die grootste deel van die Romeinse nedersetting was aan die linkeroewer van die Seine in die huidige Vde arrondissement geleë. Die stadsgebied het vanaf die huidige Rue Mouffetard in die ooste tot Rue de Vaugirard (VIde arrondissement) in die weste en vanaf die huidige Boulevard Saint-Germain tot die heuwelpiek Montagne Sainte-Geneviève gestrek.
Danksy die Heilige Geneviève (422–502) is die Gallo-Romeinse stad in 451 deur die Hunne – wat toe groot dele van Europa verwoes het – gespaar.
Onder die Frankiese bewind het Parys as die hoofstad van die Neustriese Deelryk gedien, maar dit is in die Karolingiese tydperk weer afgeskaal tot hoofstad van die graafskap, terwyl die politieke magsentrum ooswaarts verskuif het. Maar desondanks het die stad as handelsplek gefloreer en die bevolking teen omtrent 800 reeds 20 000 beloop. Ongelukkig het ook Wikings aangetrokke gevoel tot Parys se rykdomme en die stad verskeie kere geplunder. Eers in 885 het graaf Odo uit die Robertynse dinastie daarin geslaag om die Noormanne te verslaan. Met die bekroning van hertog Hugo Capet as koning van Frankryk in 987 het Parys sy status as hoofstad van die ryk herwin.
Parys het groot welvaart uit sy ligging ervaar – belangrike handelsroetes het hier bymekaar gekom, en aan die begin van die 12de eeu is die stad aansienlik vergroot. Tydens die heerskappy van die konings Lodewyk VI en Lodewyk VII het die stad meer en meer administratiewe funksies as hoofstad van Frankryk begin waarneem, en sy beroemde skole – soos byvoorbeeld die katedraalskool van Sainte-Geneviève – het die vernaamste geleerdes en 'n groot aantal studente van verskillende Europese lande gelok. Hierdie skole wat hulle hoofsaaklik aan die linkeroewer van die rivier Seine geleë was, was die voorlopers van die Universiteit van Parys wat in die twaalfde eeu gestig is. Die studente het gewoonlik Latyn met mekaar gepraat sodat na hulle woonbuurt (wat vandag nog bestaan) as die Quartier Latin verwys is.
Die stad het ook in die 13de eeu nog sterk gegroei; die koninklike paleis is vergroot en die Gotiese katedraal in die cité (historiese stadskern) is opgerig.
Koning Filips II van Frankryk het die stad, wat nou sowat 80 000 inwoners getel het, laat versterk, en onder koning Lodewyk IX het dit uiteindelik tot een van die grootste en belangrikste stede in Europa ontwikkel. Die stad het saam met die monargie gegroei, maar weens sy oorgrote politieke belang is dit nooit stadstatus toegestaan nie. 'n Koninklike provost het Parys geregeer, en behalwe vir die gildes – by name die koopliede van die Seine – het die burgerskap nie daarin geslaag om 'n stadsraad of ander verteenwoordigende liggame te skep nie. Die Sonkoning Lodewyk XIV het verkies om in die nabygeleë Versailles te bly, wat van daardie stad tussen 1643 en 1715 die koninklike hoofstad gemaak het.
Die burgerlike verset teen die absolutistiese "Ancien Régime" het 'n hoogtepunt in die Franse Rewolusie bereik. Op 14 Julie 1789 het die burgers die gevangenis Bastille gestorm. Die Rewolusionêre het geprobeer om die land van die adelsheerskappy, die geestelikheid en ook die Christelike "bygeloof" te bevry. Die nekslag wat die adel en kerk toegedien is, het verseker dat Frankryk tot 'n sekulêre maatskappy van selfstandige burgers ontwikkel het.
In 1848 is Parys sterk deur rewolusionêre onluste geraak. Louis-Napoléon, wat Frankryk aanvanklik as president geregeer het en vanaf 1852 'n diktatoriese bewind as keiser daargestel het, was van voorneme om Parys in 'n monumentele wêreldstad om te skep. Georges Eugène Haussmann (1809–1891), 'n bekwame provinsiale prefek sonder enige formele opleiding in argitektuur of stadsbeplanning, is deur die keiser in 1852 as prefek van die département Seine – en dus Parys – benoem om dié plan te verwesenlik. Dit was die begin van vier dekades se ongekende boubedrywighede. Altesaam 2,5 miljard goudfrank is gedurende die Tweede Keiserryk tussen 1852 en 1870 aan dié projek bestee (banklenings, wat hiervoor aangegaan is, was eers in 1929 afbetaal). In dié twee dekades het die Franse hoofstad ongekende groei ervaar – die inwonertal het van 1,2 miljoen in 1850 toegeneem tot twee miljoen in 1870.
In daardie tyd het die binnestad van Parys in baie opsigte nog 'n sterk middeleeuse karakter gehad, terwyl voorstede en krotbuurte langs die stadsrand uitgebrei het. Die onhigiëniese toestande in kwartiere soos die Marais het nie net ernstige gesondheidsrisiko's vir hul bewoners ingehou nie (cholera en tifus was 'n konstante bedreiging), ook die stank was ondraaglik.
Die veranderinge, wat Parys gedurende Haussmann se stadsvernuwing ondergaan het, was radikaal en omvattend. Geen ander stad is ooit in vredestye só ingrypend omgevorm soos die Franse hoofstad gedurende Haussmann se ampstermyn nie. Die herstrukturering is in drie fases deurgevoer en het die sloping van 19 730 historiese geboue (waaronder Haussmann se geboortehuis in 55 rue de Faubourg-du-Roule) en die bou van 34 000 nuwe woonhuise behels. Parys se historiese nou straatjies is vervang deur nuwe pragtige lane nie net vanweë hul wydte en lengte besonder indrukwekkend was nie, maar eers deur lang rye van reëlmatige ruim woonstelgeboue in die neo-klassieke styl met helder, roomkleurige fasades hul besondere karakter gekry het.
Die buurt rondom die treinstasie Saint- Lazare was een van die kerngebiede van Haussmann se radikale herstrukturering. Wes daarvan was 'n heuwelagtige buurt geleë wat vanweë die groot getal Poolse immigrante "Klein-Pole" genoem is; die meeste van hulle is in barakke gehuisves. Nadat die bewoners verdryf is, is die terrein vlak gemaak en nuwe reguit strate aangelê. Kruisende strate het skerp hoeke gevorm.
Die Place d'Europe, 'n plein wat reeds voor Haussmann se herstrukturering bestaan het, is in 'n soort brug bo-oor die spore van die Saint-Lazare-stasie omgeskep. Ter geleentheid van die wêreldtentoonstelling in 1867 is grootskaalse bouprojekte aangepak. Groot getalle nuwe woonhuise met vyf verdiepings het 'n besondere karakter aan die kwartier gegee. Hul neoklassieke ontwerpe met hoë "Paryse" vensters, gietysterbalkonne en 'n maksimale hoogte van 35 meter oorheers vandag nog steeds die binnestad van Parys.
Die nuwe Quartier de l'Europe was 'n aantreklike woonbuurt vir die voorstanders van 'n "moderne stedelike lewe", waaronder talle impressionistiese skilders soos Édouard Manet, Claude Monet en Gustave Caillebotte, maar ook digters soos Stéphane Mallarmé en skrywers soos Maxime du Camp. Haussmann se nuwe kwartier was daarnaas 'n geskikte woonplek vir Émile Zola se romanheld Jacques Lantier.
Naas elegante woonkwartiere en lane het Haussmann se ontwerpe voorsiening gemaak vir 'n moderne stedelike infrastruktuur met ruim openbare pleine, groot stadsparke (waarvoor Londen se Hyde Park as voorbeeld gedien het), 'n nuwe rioleringstelsel, 'n nuwe akwaduk wat Parysenaars van vars drinkwater voorsien het, 'n netwerk van ondergrondse gaspyplyne vir die beligting van strate en woonhuise, kunsvolle fonteine, ryk versierde openbare toilette en lang rye nuutgeplante bome.
Ewe elegant was die ontwerpe vir nuwe spoorwegstasies soos die Gare du Nord en Gare de l'Est, die opulente Paryse Operahuis, nuwe teaters op die plein Place du Châtelet, die Les Halles-markgebou met sy kunsvolle ysterraamwerk (onsterflik gemaak deur Émile Zola se roman "Die buik van Parys"), maar ook nuwe kerk- en skoolgeboue. Een van Hausmann se meesterwerke was die Place de l'Étoile (tans Place Charles de Gaulle) met sy netwerk van twaalf radiale lane.
Die skadukant van Haussmann se projek was die verdrywing van armer bewoners (van Parys se arm buurte het voor die verwesenliking van Haussmann se plan tot vlakby die keiserlike paleis gestrek), onteienings en die grootskaalse sloping van bestaande woongeboue. Woonstelle in die Paryse binnestad was nou nog net vir die nouveaux riches, die nuwe welgestelde bourgeoisie, bekostigbaar.
Haussmann se planne was ook ná sy gedwonge aftrede in 1870 – die keiser is skerp gekritiseer vir die buitensporige koste wat aan die stadsvernuwing verbonde was en moes van sy prefek ontslae raak – rigtingwysend vir die ontwikkeling van Parys. Groot woonstelle en die nabyheid van openbare vervoer soos treine vir naweekuitstappies langs die Seinerivier het middelklashuurders na die kwartier gelok. Dit was hul leefstyl wat die Franse impressioniste in hul skilderye sou uitbeeld.
Die militêre nederlaag teen Pruisiese troepe in die slag van Sedan gedurende die Franko-Pruisiese Oorlog van 1870–1871 en die gevangeneming van keiser Napoléon III het die Tweede Keiserryk se ondergang ingelui. 'n Provisoriese regering het op 4 September 1870 in die Paryse Raadsaal die Derde Franse Republiek geproklameer, terwyl die stad deur Pruisiese troepe beleër is. Op 28 Januarie 1871 is Parys deur Pruisiese magte beset.
Die beleg van Parys het in die winter van 1870–1871 tot 'n hongersnood gelei en rewolusionêre neigings aangespoor. Tussen Maart en Mei 1871 het kommunistiese en sosialistiese arbeiders, die sogenaamde Commune van Parys, in opstand teen die heersende regering gekom. Die rebellie is deur regeringstroepe genadeloos onderdruk.
As gevolg van die oorlog het Frankryk sy leidende politieke rol in Europa kwytgeraak, maar desondanks het Parys in die tagtigerjare van die 19de eeu weer 'n tydperk van bloeiende welvaart beleef wat later as Belle Époque bekend sou staan. In hierdie tydperk het weelderige afdelingswinkels en paleise ontstaan, net soos die Eiffeltoring – 'n projek wat, toe dit in (1889 as die destyds hoogste gebou op aarde voltooi is, nog omstrede was onder Parysenaars, maar uiteindelik die bekendste baken van die Franse hoofstad geword het. Ander opspraakwekkende bouprojekte in dié tyd sluit die eerste veelverdieping-staal-betongebou (voltooi in 1892), die Grand Palais en Petit Palais (1900), die brug Pont Alexandre III, die basiliek Sacré-Cœur (1900) en die Métro (moltreinlyn) tussen Maillot en Vincennes (1900) in. Naas die wêreldtentoonstellings van 1878, 1889 en 1900 het Parys ook as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele 1900 opgetree.
Die tydgees van die Belle Époque is weerspieël in 'n bloeiende kunslewe, Parys se operahuise en teaters, in elegante modestyle, straatkafees en salonne. As kulturele spilpunt van Europa het Parys 'n magneet vir kunstenaars en intellektueles geword, terwyl jong welvarendes 'n besoek aan die Franse hoofstad as die afronding en bekroning van hul opleiding beskou het.
Die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse blitzkrieg het die bitter jare van Duitse besetting gebring. In die laat somer van 1944 is Parys deur Geallieerde Anglo-Franse Magte bevry.
Teen die middel van die 20ste eeu het groot getalle binnelandse migrante uit landelike gebiede en immigrante uit oorsese Franse besittings hulle in Parys kom vestig en nuwe demografiese uitdagings soos oorbevolking vir die stedelike administrasie gebied. 'n Maklike, maar kortsigtige oplossing was om mense in buitewyke, die sogenaamde banlieues buite die kringsnelweg Boulevard périphérique, te huisves waar in die 1960's en 1970's uitgestrekte satellietstede ontstaan het. Ontoereikende beplanning en die gebrek aan infrastruktuur het die lewensgehalte van bewoners verswak. So is byvoorbeeld min nuwe werksgeleenthede geskep en is inwoners genoodsaak om lang pendelritte na die binnestad af te lê. Grootskaalse werkloosheid het mense hulself dikwels tot misdaad laat wend.
Studenteproteste en stakings dwarsoor die land het die Paryse regering in 1968 geskud. Anders as byvoorbeeld in Duitsland het die studente- en werkersbewegings in Frankryk saamgesluit, en die eskalerende betogings en proteste het vir sommige destydse waarnemers selfs die gevaar van 'n burgeroorlog ingehou.
Die sestigerjare was nogtans 'n tydperk van ekonomiese vooruitgang; die ontwikkeling van die wolkekrabberbuurt La Défense het in hierdie periode 'n aanvang geneem. Parys het sy rol as wêreldstad in die volgende dekades met 'n reeks asemrowende argitektoniese projekte bevestig wat deur die Franse Staatspresidente bevorder is. President Georges Pompidou was die dryfkrag agter die bou van die Centre Culturel in die stadswyk Beaubourg; President Valéry Giscard d'Estaing het die Musée d'Orsay, die Institut du Monde arabe en die Cité des Sciences et de l'Industrie bevorder; terwyl die glaspiramide van die Louvre, die Opéra-Bastille, die Bibliothèque de France en die Grande Arche in La Défense onlosmaaklik met President François Mitterrand verbind is.
In Desember 2005 het die EPAD, die organisasie wat tans die ontwikkeling van La Défense beheer, planne bekend gestel om 'n nuwe reeks van wolkekrabbers (waarvan een met 'n hoogte van sowat vierhonderd meter) en 'n nuwe skouburg met 5 000 sitplekke op te rig.
Parys se banlieues, 'n ring van voorstede wat onder meer as woonkwartiere vir minderbevoorregte bevolkingsgroepe soos immigrante uit Noord- en Swart-Afrika dien, was in die herfs van 2005 weer eens die skouplek van gewelddadige onluste, wat vinnig oor die hele land versprei het. Grootskaalse immigrasie van ongeskooldes, wat werkloosheid, armoede, woningnood en misdaad tot gevolg het, het 'n ernstige probleem vir Franse metropole geskep. Die opgehoopte frustrasie van veral jeugdiges word vergroot deur die feit dat hulle grotendeels Franse burgerskap het, maar desondanks nie in die Franse maatskappy geïntegreer is nie. Baie van hulle kan selfs nie die bus- of treinkaartjie vir 'n besoek aan die Paryse binnestad bekostig nie en staan dus geen kans op 'n werkgeleentheid nie.
Die onluste in 2005 het ná die dood van twee jeugdiges in 'n ongeluk uitgebreek. Hulle het valslik geglo dat hulle deur polisiemanne agternagesit sou word en gevlug. Gewelddadige betogings en opmerkings deur die destydse Franse Minister van Binnelandse Sake, Nicolas Sarkozy, dat die voorstede "skoongemaak" moet word, het die aanleiding tot die landswye onluste gegee.
Op 7 Januarie 2015 het twee Moslem-ekstremiste, albei Franse burgers wat in die metropolitaanse gebied van Parys grootgemaak is, die Paryse redaksiekantoor van Charlie Hebdo, 'n satiriese tydskrif wat met die Islamitiese profeet Mohammed spot gedryf het, aangeval en dertien mense doodgeskiet, onder wie vyf bekende spotprenttekenaars, die tydskrif se direkteur en drie polisielede. Twee dae later het 'n derde terroris vier gyselaars in 'n aanval op 'n Joodse supermark naby die Porte de Vincennes vermoor. Al drie aanvallers is nog op dieselfde dag deur die Paryse polisie doodgeskiet. Die twee aanvalle was die dodelikste terreuraanvalle in die Paryse hoofstad sedert 1961. Op 11 Januarie het 'n geskatte 1,5 miljoen mense, waaronder politieke leiers uit die buiteland, aan 'n betoging teen terrorisme en vir die vryheid van spraak deelgeneem.
Op 13 November 2015 het Moslem-ekstremiste en beweerde aanhangers van die sogenaamde "Islamitiese Staat"-organisasie (IS) 'n reeks aanvalle op burgerlike teikens geloods. Tientalle besoekers van drie straatkafees is doodgeskiet; 'n selfmoordbommer het homself buite die stadion Stade de France opgeblaas waar op dié tydstip 'n sokker-wedstryd tussen Frankryk en Duitsland se nasionale spanne gehou is wat ook deur die Franse president François Hollande en die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, bygewoon is; en terroriste, wat met Kalasjnikof-gewere bewapen was, het die Bataclan-teater- en konsertsaalgebou aangeval waar hulle tientalle toeskouers doodgeskiet het voordat hulle hulself opgeblaas het. Terwyl sewe aanvallers gesterf het, kon twee terroriste ontsnap. Altesaam 130 mense het in die terreuraanvalle gesterf en meer as 350 is beseer.
President Hollande het die aanvalle as 'n oorlogsdaad van die IS beskryf, die noodtoestand in heel Frankryk verklaar, grenskontrole heringestel en vyftienhonderd soldate in Parys ontplooi. Skole en universiteite is net soos ander openbare instellings in Parys op die volgende dag gesluit.
Vroeg op 18 November is drie verdagte terroriste, onder wie Abdelhamid Abaaoud wat die aanvalle na bewering beplan en gekoördineer het, in die voorstad Saint-Denis deur polisielede doodgeskiet.
Volgens die Wet oor die administratiewe herstrukturering van Parys van 10 Julie 1964, wat op 1 Januarie 1968 volledig in werking getree het, vorm Parys tegelykertyd 'n nedersetting (commune) en 'n département. Voorheen was Parys sedert 1790 die administratiewe setel van die département Seine. Die stad word onderverdeel in twintig stedelike arrondissements of stadsdistrikte waarvan die grense in 1860 afgebaken is. Hulle het die twaalf oorspronklike arrondissements vervang wat gedurende die Franse Rewolusie op 11 Oktober 1795 geskep is. Tans word die Paryse hoofstad verder verdeel in agttien kiesafdelings.
Die arrondissements word op hulle beurt elkeen onderverdeel in vier quartiers of stadsbuurte. Daar is dus altesaam tagtig stadsbuurte wat spiraalvormig gerangskik is. Dié spiraal loop vanaf die Louvre, die 1ste Arrondissement, kloksgewys twee keer rondom die historiese middestad van die Île de la Cité tot by die 20ste Arrondissement by die Place de la Nation. Ook die poskode – in Frankryk 'n reeks van vyf syfers – dui aan in watter arrondissement 'n posadres geleë is. Die eerste twee syfers (75) dui die département aan (Parys), die laaste twee die arrondissement.
Die name van tradisionele stadsbuurte is afgelei van vroeëre dorpe wat gaandeweg by Parys ingesluit is namate die stadsgebied uitgebrei het, soos byvoorbeeld La Villette, Belleville en Chaillot, van kerke soos Saint-Germain-des-Prés, van historiese of belangrike geboue soos Les Halles en Opéra of van historiese besonderhede soos die Quartier Latin. Faubourgs – letterlik plekke wat buite 'n kasteel geleë is – is voorstede wat meestal na die mees nabygeleë vroeëre dorp vernoem is – so was Montmartre byvoorbeeld die voorstad wat in rigting van die gelyknamige dorp geleë was.
Die stadsraad van Parys, die Conseil de Paris met 163 lede, word deur Paryse stemgeregtigdes vir 'n termyn van ses jaar verkies. Die stadsraad benoem nie net die burgemeester (Maire) nie, maar vorm tegelykertyd as Conseil Général (Algemene Raad) die wetgewende liggaam van Parys as département. In 2014 is die Sosialistiese Party se kandidaat, Anne Hidalgo, vir 'n ampstermyn van ses jaar as burgemeesteres verkies.
Die prefek (Préfet de Paris) as administratiewe hoof van die département word deur die Franse regering benoem. Tans beklee Daniel Canepa dié pos. Canepa dien gelyktydig as prefek van die administratiewe gewes Île-de-France en as voorsitter van die administratiewe gewestelike raad (Conseil Régional). Die Paryse polisiediens word deur 'n polisieprefek bestuur.
Water het 'n sentrale rol by die ontwikkeling van Parys se stedelike administrasie gespeel aangesien dit histories teruggevoer kan word na die invloedryke gilde van "Koopliede te water" wat in die middeleeue alle handelsaktiwiteite op die Seine en sy syriviere beheer het. Teen die middel van die 13de eeu het koning Lodewyk die Heilige leidende lede van dié vereniging as stadsregering benoem. Hierdie échevins of raadslede het onder leiding van 'n prévos des marchands (provoos van handelaars) vergader wat die bevoegdhede van 'n burgemeester uitgeoefen het. Die koopmansgilde se embleem – 'n boot – maak steeds deel uit van Parys se stadswapen.
In 1357 is die setel van die stadsregering op inisiatief van Étienne Marcel, die destydse provoos van handelaars, na die Maison des Piliers, 'n 14de eeuse gebou op die Place de la Grève ("Sandoewerplein") verskuif. Die ou raadsaal is in die 16de eeu afgebreek en deur 'n nuwe gebou in die Renaissance-styl vervang. Hier is op 4 September 1870 die Derde Franse Republiek geproklameer. Een jaar later is die raadsaal gedurende die Paryse Commune-opstand deur 'n brand vernietig nadat die opstandelinge dit as hul hoofkwartier gebruik het.
Die derde en huidige raadsaal (Hôtel de Ville) is deur die argitekte Théodore Ballu (1817–1885) en Édouard Deperthes (1833–1898) volgens die Neorenaissancestyl met enkele Gotiese elemente ontwerp en tussen 1874 en 1882 gebou. Die fasade is met 'n groot horlosie en 146 standbeelde van bekende persoonlikhede soos wetenskaplikes, skrywers en kunstenaars versier.
Die plein voor die raadsaal het deur die eeue verskeie kere in die brandpunt van politieke gebeure gestaan. In die middeleeue was die plein aan die Seine-oewer die oudste ankerplek en bakermat van die stad Parys. Hier is die belangrikste in- en uitvoergoedere gehanteer. Hier is groot feeste gehou, maar ook teregstellings het hier plaasgevind. Gedurende die Franse Rewolusie het die plein in die skadu van die guillotine gestaan en is koning Lodewyk IV hier gedwing om die Franse driekleurvlag (tricolore) te soen. Die raadsaal het vir die rewolusionêres Danton, Marat en Robespierre as hoofkwartier tydens hul Skrikbewind gedien.
Weens die groot aantal werkers, wat gedurende stakings en betogings op die Place de la Grève vergader het, het idiome soos faire (la) grève en être en gréve ("staak") ingang tot Frans gevind. Op 19 Maart 1803 is die plein se naam gewysig na Place de l'Hôtel-de-Ville ("Raadhuisplein"). In 1982 is motors van die plein verban.
Parys is die hoofstad van die Franse Republiek, setel van die staatspresident, die regering en die twee kamers van die Franse parlement – die Nasionale Vergadering as laer- en die Senaat as hoërhuis. Ondanks alle pogings om politieke, administratiewe en ekonomiese verantwoordelikhede na die provinsiale sentra te verskuif, word die meeste belangrike politieke en ekonomiese besluite steeds in Parys geneem.
Die feit dat 'n vyfde van die Franse bevolking in die metropolitaanse gebied van Parys saamgetrek is en byna dertig persent van die land se bruto binnelandse produk hier gegenereer word, verleen 'n enorme gewig aan die hoofstad.
Parys is die vernaamste ekonomiese sentrum van Frankryk, wat met sy reusagtige afsetgebied nog steeds aantreklik gemaak het vir die vervaardigers van verbruiksgoedere. Meer as 'n kwart van alle Franse nywerhede het hulle hoofkwartiere in die metropolitaanse gebied van Parys, en altesaam 593 000 ondernemings is in die hoofstadgewes Île-de-France gesetel. Tans is die farmaseutiese nywerheid, die telekommunikasiebedryf, die uitgewersbedryf en navorsing die suksesvolste sektore van die Paryse ekonomie. Ten opsigte van navorsing en ontwikkeling het Parys nou die belangrikste stad in Europa geword, en vyf van die twaalf grootste banke het hulle hoofkwartiere in die stad, net soos talle versekeringsmaatskappye en 'n groot aantal ondernemings uit die mediabedryf. Parys is tradisioneel die sentrum van die Franse uitgewers- en drukkerybedryf.
Die stad staan tradisioneel bekend vir sy groot verskeidenheid luukse artikels, wat van haute couture-mode en juweliersware tot reukwater en skoonheidspreparate strek. Ander belangrike nywerhede vervaardig chemiese produkte, elektroniese toerusting, motors en masjiene.
Die meeste ondernemings van die Franse dienstesektor, veral finansiële instellings soos banke, opereer eweneens vanuit die hoofstad. Die finansiële sektor met die multinasionale banke BNP Paribas, Société Générale en Crédit Agricole bied tans werkgeleenthede vir sowat 270 000 mense.
Sy rol as een van die belangrikste handelsmetropole in Europa verseker ook dat groot multinasionale ondernemings soos Sony, IBM, Hewlett-Packard France, Siemens und Motorola hier hulle Franse hoofkwartiere het. 38 multinasionale ondernemings het hulle internasionale hoofkwartier in die stad. Parys is ook die setel van die Europese beurs Euronext.
Parys trek as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld voordeel uit sy ligging in die hart van een van die vrugbaarste landboustreke in Europa. Landbou vorm dan ook eeue lank die ekonomiese basis van die omgewing en verskaf die voedsel vir 'n vinnig groeiende bevolking.
Ondanks die feit dat Parys een van die welvarendste gebiede in die Europese Unie is, bly die werkloosheidsyfer met sowat tien persent (7,5 persent in die metropolitaanse gebied) nog steeds sorgwekkend. Na ramings is daar meer as 50 000 dakloses wat skuiling in die metrostasies en ander plekke moet vind.
Parys en sy onmiddellike omgewing, die Île-de-France, behoort met 'n bruto geografiese produk (BGP) van €449 miljard (VSA-$507 miljard) in die jaar 2003 tot die enjins van die wêreldekonomie en sou as 'n onafhanklike staat as die vyftiende grootste ekonomie ter wêreld gelys word.
Met slegs 18,7 persent van Frankryk en 2,5 persent van die Europese Unie se totale bevolking genereer die hoofstad en sy omgewing naastenby dertig persent van Frankryk en 4,5 persent van die Europese Unie se BGP. In Noord-Amerika is daar net twee metropolitaanse gebiede met 'n groter BGP as Parys, New York Stad en Los Angeles, terwyl in Asië slegs Tokio en Osaka meer dienste en goedere produseer as die Franse hoofstadgewes Île-de-France.
In teenstelling met wêreldstede soos Londen en New York, wat hulle in die wêreldekonomie op die verskaffing van finansiële dienste gespesialiseer het, beskik Parys nog oor 'n relatief sterk nywerheidsbasis. Met sy 650 000 werknemers is die Paryse nywerhede die belangrikste in Frankryk, nog voor die gebied Rhône-Alpes met sy metropool Lyon.
Desondanks bly die verskaffing van dienste met toegevoegde waarde die belangrikste groeisektor van die Paryse ekonomie. Ten spyte van Frankryk en Parys se gewildheid as die vernaamste toeristebestemmings ter wêreld verskaf die toerismebedryf minder as vier persent van die werkgeleenthede.
Jaarliks besoek 33 miljoen toeriste die Franse hoofstad, en Parys is nou een van die gewildste metropole vir internasionale konferensies met jaarliks meer as 1 000 byeenkomste, waarvan 300 internasionale vergaderings en 300 handelskoue is. Sakereise verskaf 'n jaarlikse inkomste van 3,5 miljard Euro aan die stad, terwyl die toerismebedryf meer as 9,9 miljard Euro per jaar verdien.
Parys en die omliggende Île-de-France beskik oor drie internasionale lughawens, Roissy-Charles de Gaulle (sowat 25 km noord van Parys, met 61,6 miljoen passasiers in 2012), Orly (14 km suid van Parys, met 27,2 miljoen passasiers in 2012) en Parys-Beauvais (84 km nord van Parys naby Beauvais in Pikardië, met 3,9 miljoen passasiers in 2012). Die lughawe Charles de Gaulle is die derde grootste en Orly die negende grootste in Europa.
Die ses stasies van die Franse Spoorweë (Société nationale des Chemins de Fer Français, SNCF) is Gare du Nord, Gare de l'Est, Gare de Lyon, Gare d'Austerlitz, Gare Montparnasse en Gare Saint-Lazare. Openbare vervoerdienste word deur die RATP verskaf (Métro, busse, tramway en RER). Die stadstreine van die RER (Réseau Express Régional) beskik oor vyf linies wat tussen 5:30 en 0:30 uur ry.
Die Paryse Métropolitain is deur die ingenieur Fulgence Bienvenue ontwerp, maar dit is die kunstenaars wat die stasies tot kunswerke veral in die Art Déco-styl omskep. Vandag is daar nog sowat 90 van hierdie Art déco-pawiljoene.
Die Métro of Paryse moltrein, met veertien linies, sowat driehonderd stasies en 'n netwerk van sowat 200 kilometer, is die belangrikste openbare vervoermiddel met daagliks sowat vyf miljoen passasiers. Tegelykertyd is dit 'n soort Parys in 'n neutedop. In spitstye wemel dit van duisende beroepsmense, maar vir die grootste deel van die dag is dit die wêreld van die dakloses (les clochards of les sans-abri), die musikante en kleinhandelaars.