Die Blou Moskee in Istanboel.
Die Sultan Ahmet-moskee (Turks: Sultanahmet Camii) is ’n historiese moskee in Istanboel, die grootste stad in Turkye en van 1453 tot 1923 die hoofstad van die Ottomaanse Ryk. Dit is algemeen bekend as die Blou Moskee vanweë die blou teëls waarmee dit binne versier is.
Dit is tussen 1609 en 1616 tydens die bewind van sultan Ahmet I gebou. Soos baie ander moskees bevat dit ook ’n graftombe vir die stigter, ’n skool en ’n hospies. Terwyl dit steeds as ’n moskee gebruik word, het die Blou Moskee ’n groot toeriste-attraksie geword.
Die ou Hippodroom van Konstantinopel met die Blou Moskee links (Jean-Baptiste van Mour, 18de eeu). Ná die Vrede van Zsitvatorok en die ongunstige afloop van die oorloë met Persië, het sultan Ahmet besluit om ’n groot moskee te bou om Allah se guns te wen. Dit was die eerste nuwe keiserlike moskee in 40 jaar. Waar sy voorgangers vir hulle moskees betaal het met oorlogsbuit, moes Ahmet geld uit sy skatkis gebruik omdat hy geen noemenswaardige oorwinnings behaal het nie. Dit het groot onmin veroorsaak onder die ulema, die Moslemse regsgeleerdes.
Die binnekant word verlig deur ’n enorme kandelaar. Van die blou teëls wat die moskee sy naam besorg het. Die moskee is gebou op die terrein van die Groot Paleis van Konstantinopel, die paleis van die Bisantynse keisers. Dit was regoor die Aya Sophia, in dié tyd die belangrikste moskee in Istanboel, en die Hippodroom (renbaan), ’n terrein van groot simboliese belang. Groot dele van die moskee se suidekant staan op die fondament van die Groot Paleis. Verskeie paleise wat later op die terrein gebou is asook dele van die Hippodroom moes afgebreek word om die moskee te bou.
Bouwerk het in Augustus 1609 begin. Hy wou gehad het dit moet die belangrikste moskee in sy ryk word en het sy koninklike argitek, Sedefhar Mehmet Ağa, aangestel om ’n ogie oor die bouwerk te hou. Die organisasie van die werk is in die fynste besonderhede in agt volumes beskryf wat nou in die biblioteek van die Topkapi-paleis gehou word.
Die openingseremonies in in 1617 gehou (hoewel ’n inskripsie op die hek 1616 lui). Die gebou was nog nie heeltemal klaar in hierdie laaste jaar van Ahmet se bewind nie, want die laaste rekeninge is deur sy opvolger betaal.
Die ontwerp van die Blou Moskee is ’n vermenging van Bisantynse elemente van die Aya Sophia en tradisionele Islamitiese argitektuur. Die binnehof is omtrent net so groot soos die moskee self en word omring deur ’n arkade met ’n gewelfde dak. Die moskee het ses minarette.
Die binnekant is uitgelê met meer as 20 000 handgemaakte keramiekteëls van Iznik in meer as 50 verskillende tulp-ontwerpe. Die prys wat vir elke teël betaal kon word, is deur die sultan op ’n spesifieke bedrag vasgestel, terwyl die prys van teëls in die algemeen algaande gestyg het. Gevolglik het die gehalte van die teëls mettertyd afgeneem. Hulle kleure het verdof en verander (van rooi in bruin en van groen in blou).
Ander versierings sluit in verse van die Koran – baie daarvan geskryf deur Seyyid Kasim Gubari, wat beskou is as die grootste kalligraaf van sy tyd. Die vloer is met matte bedek wat deur gelowiges geskenk word en voortdurend vervang word namate hulle uitgetrap word. Die talle groot vensters wek ’n indruk van ruimte. Die lig wat daardeur val, word aangevul deur groot kandelare.
Vanaf Sultanahmet-plein naby die Aya Sophia.
Sonsondergang oor die Bosporus met die Blou Moskee links en die Aya Sophia regs.
Die voorhof met een van die ingange.
Aanbidders in die moskee.
Die binnekant.
Gesien vanaf die binnehof.
Ingang na die binnehof.
Die binnehof.
Belangrikste bakens van Istanboel | ||
|