Die Taj Mahal (Oerdoe: تاج محل, Hindi: ताज महल, uitspraak: Tâdj-Mahal) is 'n 17de-eeuse gebou in die Noord-Indiese stad Agra (Oetarpradesj). Die naam is afkomstig uit Persies en beteken "Paleis van die kroon". Dit is 'n mausoleum wat tussen 1631 en 1648 opgerig is in opdrag van die Indiese groot Mugal, koning Shah Jahan, as grafmonument vir sy hoofeggenote Mumtaz Mahal, wat in 1631 in die kraambed oorlede is. Later is ook sy eie liggaam daarin begrawe. Die Taj Mahal is in 1983 deur UNESCO as 'n wêrelderfenisgebied gelys.