Die Winterpaleis (Russies: Зимний дворец) lê in Sint Petersburg aan die Newa-rivier, tussen die Paleisoewer en die Paleisplein. Dit is in die 18de eeu gebou as residensie van die tsaars van Rusland, maar maak tans deel uit van die Hermitage, wat een van die wêreld se grootste kunsversamelings huisves.
]]
Die Winterpaleis is tussen 1754 en 1762 gebou vir keiserin Elisabeth. Die Russies/Italiaanse argitek Bartolomeo Rastrelli het opdrag gekry om ’n paleis te bou wat mooier is as enige ander Europese koninklike paleis. Dit het agt jaar geneem om te voltooi en 4 000 mense het daaraan gewerk. Rastrelli wou die 460 kamers van die paleis in die barokstyl versier. Elisabeth het egter in 1762 gesterf en haar opvolger, Pieter III, nie lank daarna nie. Die nuwe keiserin, Katharina die Grote, se smaak was heeltemal anders as Elisabeth s’n en sy het nuwe argitekte gesoek om die paleis in die neoklassieke styl te voltooi. Die afrondingswerk is nog in dieselfde jaar gedoen. Die groen-en-wit paleis bestaan uit ’n mengsel van barok en neoklassisme. Dit het 1 786 deure en 1 945 vensters.
In die nag van 17 Desember 1837 het ’n groot brand in die Winterpaleis uitgebreek. Daar het min van die paleis oorgebly. Nikolaas I was vasbeslote om die paleis gou weer te laat herstel. Die werk het net vyftien maande geduur en het plaasgevind onder leiding van die argitekte Vasily Stassov en Alexander Brjoellov; Stassov was verantwoordelik vir die openbare vertrekke en Bryullov vir die private vertrekke.
In 1839 het die keiserlike gesin na die paleis teruggetrek.
Die keiserlike gesin het die paleis as winterresidensie gebruik van 1762 tot 1917, toe die Romanof-dinastie tot ’n einde gekom het. Die paleis is vir talle geleenthede gebruik, soos danspartye, huwelike en kronings. Die Russiese tsaars het ’n groot aantal kunswerke uit hul persoonlike versamelings daarheen gebring. Ná die Februarie-rewolusie van 1917 het die tussentydse regering die paleis as hoofkwartier gebruik. In die Eerste Wêreldoorlog is ’n deel van die paleis as ’n hospitaal ingerig en ná die Oktober-rewolusie van 1917 het die Winterpaleis deel van die Hermitage geword.