Xochicalco (Nahuatl: [ʃot͡ʃiˈkaɬko], letterlik "in die huis van die blomme") is 'n voor-Colombiaanse argeologiese terrein in die deelstaat Morelos sowat 122 km suidwes van die hoofstad Meksikostad in die suide van Meksiko. Vandag praat die inwoners van die nabygeleë dorpie Cuentepec nog Nahuatl.
Die argitektuur van Xochicalco toon verwantskappe met Teotihuacán, die Maya-gebied en die Matlatzinca-kultuur in die Toluca-vallei. Die hoogtepunt van Xochicalco het gekom ná die val van Teotihuacán en daar word gespekuleer dat Xochicalco 'n rol gespeel het by die val van die Teotihuacán-ryk.
Die seremoniële hoofsentrum is op 'n kunsmatig afgeplatte heuwel geleë, met oorblyfsels van residensiële strukture, meestal nie-uitgegrawe, op die lang terrasse aan die hange. Die plek is vir die eerste keer omstreeks 200 v.C. bewoon, maar het nie voor die Epiklassieke tydperk (700–900 n.C.) tot 'n stedelike sentrum ontwikkel nie. Byna al die bestaande argitektuur op die terrein is gebou in hierdie tydperk. Op sy hoogtepunt het die stad vermoedelik 'n bevolking van sowat 20 000 gehad, waarvan baie van hulle in produserende handwerk en langafstand-handel betrokke was.
In die laat 16de eeu is vir die eerste keer ná die ruïnes van Xochicalco deur Bernardino de Sahagún verwys en in die laat 17de eeu het die universaalgeleerde José Antonio Alzate y Ramírez 'n beskrywing uit eie navorsings gepubliseer. In 1810 het Alexander von Humboldt illustrasies en 'n beskrywing van Xochicalco gepubliseer. Ook die Meksikaanse keiser Maksimiliaan I het die ruïnes tydens sy heerskap (1864–1867) besoek.
Die Argeologiese Monumentsone van Xochicalco is in 1999 deur UNESCO as wêrelderfenisgebied gelys.